MY GENADE IS VIR JOU GENOEG | |
  |
![]() Frans Koekemoer Dit is een ding om te probeer verstaan wat Paulus moes deurmaak wanneer hy in 2 Kor. 12 vir ons vertel van sy gebedstryd oor die “doring in sy vlees” wat hom soos ‘n boodskapper van Satan voortdurend gepynig het. Maar dit is geheel en al iets anders wanneer ek en jy deur ons eie dorings gekasty word en dieselfde antwoord as Paulus van God moet aanhoor: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” My eie doring in die vlees is op 26 Jan. 1999 aan my geopenbaar deur die skokkende ontdekking dat ek, ‘n predikant in God se diens, MIV-positief is! Ek was op daardie stadium na 17 jaar in die bediening, ‘n kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Johannesburg, en was deeglik bewus van die stigma wat aan hierdie siekte kleef. A.g.v. die vrees oor wat openbaarmaking aan my bediening kon doen, het ek dit derhalwe met niemand gedeel nie, behalwe met my gesin en ‘n paar intieme vriende en familielede. Vroeg in 2000 het ek egter tot die besef gekom dat die geheimhouding en vrees vir openbaarmaking my van my innerlike vrede ontneem en waarskynlik meer skade aan my doen as die siekte self. Ten spyte van die feit dat ek geweet het dat ek nie hierdie siekte opgedoen het deur enige onaanvaarbare gedrag nie, kon ek nie daarin slaag om te bepaal hoe dit kon gebeur het nie. Mettertyd het ek met soveel onbeantwoorde vrae gesit dat dit my geloofslewe en my bediening negatief beïnvloed het, en ek het selfs begin om die bestaan van God te bevraagteken. Derhalwe het ek op Sondag 3 Desember 2000 my verhaal in Rapport openbaar gemaak met die hoop dat ek iemand sou vind wat my kon help om antwoorde te kry. Hierdie openbaarmaking het my twee dinge geleer: Eerstens het ek ontdek dat ek maar vrede moes probeer maak met die feit dat ek nooit sal vasstel hoe ek die virus opgedoen het nie en dat ek maar na die beste van my vermoë daarmee sal moet saamleef. Tweedens het ek ontdek dat mense, ten spyte van my getuienis dat ek onskuldig is, nogtans hul eie gevolgtrekkings maak en nie huiwer om veroordelend op te tree nie. In hierdie tyd het ek in 1 Kor. 4:9,12,13 en 2 Kor. 4:8-9 die woorde “die apostels” vervang met “die MIV-positiewes.” Dit het vir my ‘n lewende werklikheid geword: “Dit lyk vir my God het aan ons, die ‘MIV-positiewes’, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir mense. Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik. Ons het die uit-vaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing geword, en dit is nou nog so.” “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie; op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” Ek kon egter nie met die beste wil ter wêreld daarin slaag om die positiewe gesindheid en optrede wat Paulus in hierdie Skrifgedeeltes openbaar, vol te hou te midde van my eie belewenis van veroordeling en verwerping terwyl selfs God ook nie meer op my soeke na Hom gereageer het nie. Uiteindelik het die keerpunt na ‘n stryd van meer as 2 jaar vir my aangebreek. Op 4 Maart 2001 het ek my geloof in God finaal verloor, uit die bediening bedank, en ‘n uitgesproke ateïs geword! Die Polisiebestuur het onderneem om weens my baie jare diens, my elders in die funksionele stroom aan te wend. Dit het egter mettertyd duidelik geword dat hulle nie weet wat om met my te doen nie en in Januarie 2003 is ek medies ongeskik bevind vir enige polisiediens en op pensioen geplaas. Op 16 April 2006 om 06:22 toe die son opkom - terwyl ek myself op ‘n berg op vriende se plaas in Groblersdal se omgewing bevind het - het God egter onverwags besluit 5 jaar, 1 maand, en 12 dae op hierdie kronkelpad sonder Hom was lank genoeg en ver genoeg. God het Homself op so ‘n wonderbaarlike manier as ‘n Werklikheid aan my kom openbaar dat Hy my onmiddelik in my spore gestuit en liefdevol teruggelei het na die vredespad saam met Hom. ‘n Paar dae later het God my eie oortuigings tydens hierdie 5 jaar opgesom in die woorde van Jeremia 15:18: “Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.” Maar net in die volgende vers het God vir my nuwe uitkoms gebied: “Die Here het toe gesê: ‘As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in My diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat.” En God is steeds getrou aan Sy Woord! Daarom kan ek ook vandag saam met Paulus in 2 Kor. 4:10 sê: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.” Met hierdie doel voor oë het ek sedertdien my getuienis Sondag na Sondag gedeel in verskillende gemeentes en denominasies dwarsoor Suid-Afrika, en selfs in Lesotho en Namibië. Ek is sedertdien ook deur World Vision opgelei en het reeds ‘n werkswinkel vir verskillende kerkleiers in Lesotho help aanbied oor die rol wat die Kerk kan speel teenoor mense wat deur MIV geïnfekteer of geaffekteer is, ongeag van hoe die siekte opgedoen is. Ek vertrou dat ek voortspruitend uit hierdie artikel geleenthede sal kry om, behalwe my getuienis in kerke, lewensveranderende werkswinkels vir predikante en kerkleiers te kan aanbied. Ek sou ook graag meer intensief by berading van geïnfekteerde en geaf-fekteerde persone betrokke wil raak. Dit is ook my lewensideaal om so gou moontlik ondersteunings-groepe vir diesulkes tot stand te bring. Baie mense en veral mense uit die blanke gemeenskappe sien nog nie die waarde wat openbaarmaking en ondersteunings-groepe kan hê om innerlike vrede en hoop te bring en om die stigma en onverdiende veroordeling te help afbreek nie. Frans Koekemoer (072 376 0000) |